Sunday 20 September 2015

Smullekker Pampoenkoekies vir die Reënweer.

Die smaaklikste ding vir 'n reënerige, koue dag soos dié naweek is 'n goeie oudtydse boere lekkerny... Pampoenkoekies met kaneelsuiker.


Daar is min smake en reuke soos die wat my met deernis laat terugdink aan die goeie ou dae!  Die soet spesery geur van kaneel en pampoen wat in die kombuis  hang en die sagte oranje-kleurige pampoen in die middel van die koekie neem my terug na my kinderdae, Sondagaande saam met die familie om die kombuistafel. Grappies word vertel, die klank van lekker gelag, Ma voor die stoof met voorskoot en spaan in die hand en een van ons kinders wat kaneelsuiker oor die stomende goudbruin pampoenkoekies strooi soos  hulle van die stoof af in ons borde land.




Jy kan enige pampoen gebruik vir die resep. Pas die suiker en meel aan afhangende van die soort pampoen - 'n   hubbard squash het minder suiker nodig as 'n boerpampoen, en 'n soet botterskorsie selfs nog minder.

Die resep  afmetings hier is vir boerpampoen.


Bestandele

  • 2k Koekmeel
  • 3 tlp Kaneel
  • 1 tlp Sout
  • 80 ml Strooisuiker
  • 10ml Bakpoeier
  • 4k Pampoen gekook en verpulp
  • 2 Eiers


Aanwysings

  1. Meng droë bestandele
  2. Voeg eier en pampoen by
  3. Meng alles tot pasta, voeg ekstra meel by as te nat, en eier of melk as te droog
  4. Vlakbraai op hoë hitte in kookolie tot borreltjies aan bokant vorm
  5. Keer om en braai aan ander kant tot bruin
  6. Gooi kaneel en suiker oor en laat sweet in 'n Pyrex bak met deksel op

Die pampoenkoekies is op hul lekkerste as jy hulle dadelik eet.

Lekker smul!

Tuesday 6 January 2015

Boeretroos Tuin Tee



In Desember, op pad Kalahari toe vir vakansie ry ons deur die groen, mooie Vrystaat waar mense nog trots Afrikaans is. Al die kilometers se ry deur groen mielielande  het my Afrikaner-meisie bloed (of is dit nou maag??) laat hunker na 'n lekker koeksuster en 'n snytjie varsgebakte melktert.
 
Dis hoe die idee begin posvat het om 'n egte Boeretroos tee met tradisionele lekkernye in ons pragtige tuin aan te bied. My eerste uitdaging is om die koeksusters te maak - elke Afrikaner sal vir jou sê dat net 'n tannie met beskuit-knie-boarms en jare se ervaring kan koeksusters bak. Ek het nog net een keer probeer koeksusters bak en alhoewel die stroop geurig was het die koeksusters maar bleek gelyk en die vorm soos 'n laerskool meisie wat haar hare self probeer vleg het. Maar vir die volgende twee weke gaan ek koeksuster bak oefen tot dit by my ore uitloop en ek die perfekte koeksuster kan bak! 

Buiten koeksusters gaan ek ook melktert, hertzoggies, biltong balletjies en 'n souttert bak. O, jy weet nie wat 'n hertzoggie is nie? Kom sluit aan by my Boeretroos Tuintee, waar jy hulle kan proe en ek jou die legende van hierdie lekkerny sal vertel.

Bring jou vriende en vriendinne saam en kuier lekker in ons tuin oor 'n koppie Boeretroos. Charl sal die kelner wees (hy weet dit nog nie, maar ek het tot 'n mooi voorskoot vir hom) en ek gaan my lyf tannie hou in die kombuis.

Wanneer: Saterdag, 17 Januarie 2015 @ 16h00
Waar: Ons huis in Mayfair Wes
Prys: R100 per persoon
Vir bespreking en navraag epos my by adeline@adelineskitchen.co.za

Bring a  paar ekstra sent saam vir die karwag en "tuisnywerheid" as jy lekkerbek-goed wil koop vir die honger magies by die huis.