Sunday 20 September 2015

Smullekker Pampoenkoekies vir die Reënweer.

Die smaaklikste ding vir 'n reënerige, koue dag soos dié naweek is 'n goeie oudtydse boere lekkerny... Pampoenkoekies met kaneelsuiker.


Daar is min smake en reuke soos die wat my met deernis laat terugdink aan die goeie ou dae!  Die soet spesery geur van kaneel en pampoen wat in die kombuis  hang en die sagte oranje-kleurige pampoen in die middel van die koekie neem my terug na my kinderdae, Sondagaande saam met die familie om die kombuistafel. Grappies word vertel, die klank van lekker gelag, Ma voor die stoof met voorskoot en spaan in die hand en een van ons kinders wat kaneelsuiker oor die stomende goudbruin pampoenkoekies strooi soos  hulle van die stoof af in ons borde land.




Jy kan enige pampoen gebruik vir die resep. Pas die suiker en meel aan afhangende van die soort pampoen - 'n   hubbard squash het minder suiker nodig as 'n boerpampoen, en 'n soet botterskorsie selfs nog minder.

Die resep  afmetings hier is vir boerpampoen.


Bestandele

  • 2k Koekmeel
  • 3 tlp Kaneel
  • 1 tlp Sout
  • 80 ml Strooisuiker
  • 10ml Bakpoeier
  • 4k Pampoen gekook en verpulp
  • 2 Eiers


Aanwysings

  1. Meng droë bestandele
  2. Voeg eier en pampoen by
  3. Meng alles tot pasta, voeg ekstra meel by as te nat, en eier of melk as te droog
  4. Vlakbraai op hoë hitte in kookolie tot borreltjies aan bokant vorm
  5. Keer om en braai aan ander kant tot bruin
  6. Gooi kaneel en suiker oor en laat sweet in 'n Pyrex bak met deksel op

Die pampoenkoekies is op hul lekkerste as jy hulle dadelik eet.

Lekker smul!